Voortspruitend uit die take my hier opgelê
Gestel jy is ‘n bees. Jy wei heeldag rustig in die veld. Die snelweg loop hier vlak langs jou verby, maar jy is onbewus van die plekke waarheen mense jaag of die ongelukke wat hulle in die proses maak. Jou hele bestaan is gefokus op die groen gras voor jou. Jy spring speels rond van graspol na waterkol, eet, rus, verteer jou kos, en spring dan weer op om nogeens te eet. So gaan dit van die môre tot die aand, dag in en dag uit. Jy, ou bees, het geen bekommernis groter as waar jou volgende kousel vandaan gaan kom nie. Jy is gelukkig, en skaars bewus daarvan.
Dan kom daar op ‘n dag ‘n mens verby – jalóérs op die sorgelose manier wat jy deur die lewe gaan. En die mens vra jou, “ou bees, hoekom praat jy nie ‘n slag met my nie. Jy staan net daar en kou en staar na my. Sê my, hoekom is jy so gelukkig?”
Jy, ou bees, wil antwoord: “Ek praat nie met jou nie, omdat ek onmiddellik vergeet wat ek wou sê.” Maar voordat jy dit gesê kan kry, het jy, natuurlik, vergeet wat jy wou sê. So daarom vreet jy maar voort – net soos gister, en eergister. Dolgelukkig.
Ons is nie beeste nie, sê Friedrich Nietzsche, die negentiende eeuse filosoof. Ons is mense, en daarom wroeg ons deur die lewe. En ons wroeg, want ons, anders as die bees in sy verhaaltjie, kán onthou.
Ons onthou allerhande goed. In die winkel onthou ons dat die tandepasta op is. Ons onthou dat ons die kinders by die skool moet gaan oplaai. Ons onthou dat ‘n vriend vandag verjaar. Ons onthou wat ons ma’s ons geleer het oor met kos in jou mond praat. Hierdie dinge wat ons onthou, dryf ons om meer te doen as net gras te eet. Omdat ons onthou, word ons aangespoor tot sekere optrede in die hede: ons koop tandepasta, ons laai die kinders by die skool op, ons bel die vriend wat verjaar, en ons kou en sluk maar klaar voordat ons begin praat.
Ons onthou ook ander dinge. Ons onthou die rympies wat ons as kinders geleer het (“Ouma en Oupa sit op die stoep…”), ons tel ‘n kitaar op en ons vingers onthou instinktief die drukke, ons onthou dat vyf maal vyf vyf-en-twintig is, en ons onthou die woorde van Hallelujaliedere al het ons dit in jare nie gesing nie. Daar is dus dinge wat in ons geheue ingeprent is, wat ons instaat stel om meer te doen as net gras te kou. Omdat ons onthou kan ons musiekinstrumente speel, wiskunde doen, en vir ons kinders en kleinkinders rympies en liedere aanleer.
Die voorbeelde hou nie op nie. Ons onthou ook emosies. Ons onthou die vakansie in Mosambiek en daarmee saam hoe lekker dit was. Ons onthou staaltjies uit ons skooldae en ook die sorgeloosheid daarvan. Ons onthou die motorongeluk en die vrees wat daarmee gepaardgaan. Ons onthou die skielike dood van ‘n geliefde en die skok en hartseer wat dit meebring. Omdat ons onthou, is ons nie net gelukkige graseters nie. Ons is ook bang, hartseer, kwaad, opgewonde, onseker.
Maar dat ons sommige dinge kan onthou maak nie van ons geheelonthouers nie. Selfs al onthou ons baie dinge, onthou ons beslis nie alles nie. Daar is hordes dinge wat ons vergeet. En ons weet nie eers dat ons dit vergeet nie (want as ons weet dat en wat ons vergeet, beteken dit tog eintlik dat ons onthou!). Ons onthou ook eensydig. Dit is ons eie prioriteite, ons eie emosies en ons eie ervaring van die verlede wat bepaal wat en hoe ons onthou. Ons herinneringe is skeefgetrek. Ons vertel stories oor die verlede wat ons pas, en vergeet (dalk gerieflikheidsonthalwe) van die res.
Hoe ookal sy, ons vermoë om te onthou kan ook van ons geheelonthouers in ‘n ander sin van die woord maak. Die dinge wat ons onthou en hoe ons dit onthou, kan ons onthou, weghou, weerhou. Ons kan so verknog raak aan ons (eie) herinneringe van die verlede, dat ons geheelonthouers word wat betref die hede en die toekoms. Ons vermoë om te onthou, maar ook ons onvermoë om volledig te onthou, kan ons vasketting aan die verlede en ons in die proses onthou van die lewe nóú. Ons kan so terugkruip in die verlede dat ons die hede en die toekoms miskyk. Ons kan so onwillig wees om ook ander en ánders te onthou, dat ons perspektief op die lewe eng, saai, droewig en donker word.
Aan die een kant kán ons dus nie geheelonthouers wees nie, maar aan die ander kant móét ons ook nie geheelonthouers wees nie.
Vir Christene is daar egter ook ‘n derde kant aan die saak, want Christene onthou geheel anders. Sentraal tot die Christelike geloof is dié woorde: “dit is My liggaam, en dit is My bloed. Gebruik dit tot my gedagtenis.” Daardeur sê Jesus: “Onthou, onthou, onthou.” Dit is nie ‘n beestelike, geheuelose bestaan waarin ons lewens en geluk geanker is nie, maar die Lam van God. En dít mag ons nie vergeet nie.
sjoe. dankie. mis jou *